5 Organists, 50 Fingers and 10 Feet
By Eon Malan | At the organ bench, 14 July 2019
Nica van Wyk skryf: Van 'n jong ouderdom af het ek 'n groot passie vir musiek gehad en speel al vir meer as 10 jaar klavier en orrel vanaf 2018. Ek gaan Oktobermaand my Trinity graad 8 orreleksamen speel en beskou myself as 'n hardwerkende student. Tans gee ek klavier- en klawerbord lesse en studeer Interieur Ontwerp. Ek speel graag keyboard in veskeie kerkorkeste en geniet dit veral om saam met ander musikante musiek te maak. Een van my groot drome is om nog 'n koor af te rig en te dirigeer, aangesien koorsang ook 'n groot deel in my lewe is.
Marco Erlank skryf: Marco het in 2007 op 5-jarige ouderdom met klavierlesse by Mev. Jeanne Maritz in Curro Durbanville begin waar hy steeds lesneem. Hy speel volgende maand sy Graad 8 finale eksamen. Op 11-jarige ouderdom het hy ook by Mev. Maritz met orrel as tweede instrument begin. Hy was onmiddelik baie entoesiasties oor die instrument en het op aanbeveling van haar die daaropvolgende jaar by Mev. Marian Steyl met lesse voortgegaan. Marco het van 2015 tot 2018 elke jaar aan die Tygerberg Eisteddfod en die Stellenbosch Kunswedstryd deelgeneem. Hy is twee keer by die Stellenbosch Kunswedstryd aangewys as die beste presteerder, en wen vier agtereenvolgende jare (2015 tot 2018) die orrelkategorie van die Tygerberg Eisteddfod. In 2016, 2017 en 2018 ontvang hy ’n SAKOV-beurs vir skoliere (Hy koop vir hom ’n oefenorrel met die eerste beurs), en hy tree ook op by die Wes-Kaap se streekbyeenkoms in Augustus 2016. Teen die einde van 2016 het Johan van Lill van Radio RSG ’n onderhoud met Marco uitgesaai waarin hy uitgebrei het oor sy opgewondenheid oor die orrel, en ook van sy werke voorgespeel het. Hy tree ook soms in sy eie gemeente op. Die groot eer wat hom verlede jaar te beurt geval het om op SAKOV se Beurswennerkonsert in Pretoria te kon speel, tel onder Marco se groot musiekhoogtepunte. Gedurende die onlangse skoolvakansie was Marco in Switserland waar hy die geleentheid gehad het om op die Würzbrunnenkirche in Emmental te kon optree. Die kerk is ongeveer 'n duisend jaar oud.
René Ferreira skryf: Ek is vir die afgelope 23 jaar die orrelis van NG Kerk Kuilsrivier-De Eike en by my eintlike werk afgetree. Ek sien nou weer kans vir 'n orreleksamen - my program vir die Trinity Orreldiploma is goedgekeur en ek beoog dit om DV in 2020 af te lê. Ek is vir baie jare reeds 'n student van Marian Steyl en sy is my absolute orrel-mentor en ek glo ook die enigste persoon wat kans sien vir 'n ou tannie wat wil orreleksamens speel! Orrelspel maak dit vir my die moeite werd om te lewe. Baie dankie vir hierdie geleentheid, ek glo dit gaan vir ons elkeen 'n belewenis wees.
John Oosthuizen skryf: As tiener het hy klavierkonserte saam met die destydse Durbanse Simfonie-orkes en die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) orkes gespeel. John en sy vrou, Carmelita, het vir 3 jaar in Singapoer gewoon waar hulle deel van 'n katolieke kerkmusiekbediening was. Na 'n loopbaan as IT argitek is hy nou afgetree, en hy is tans besig met sy BMus Honneurs-graad (Orrel) by Stellenbosch Universiteit onder Dr Mario Nell. Hy het al by die St. Mary's katedraal in Kaapstad en by verskeie kerke in en om Kaapstad en Stellenbosch gespeel. Hy is tans orrelis by die Gereformeerde Kerk in Stellenbosch.
Eon Malan is gebore in Johannesburg en matrikuleer in 1999 en verwerf onderskeidelik sy Diploma in Himnologie asook Kerkorrelis Diploma by die Konservatorium vir Kerkmusiek, Pretoria. Hy verwerf verskeie orrelstudiebeurse (2015-2018) van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) asook die gesogde JC Coetzee orrelbeurs (2017-2019) wat deur die NG Kerk Wes-Kaapland toegeken word. In 2019 voltooi Eon ‘n internasionale uitruilprogram in die VSA en studeer uitvoerende orrelspel onder Dr. Jacqueline Moffit-Yost by die University of North Carolina at Charlotte. Hy is aktief betrokke by SAKOV vir die laaste tien jaar en is die Sosiale Media Redakteur. Tans is hy finalejaar student by die Universiteit Stellenbosch en fokus op uitvoerende orrelspel onder Dr Mario Nell en is ook die Musiekdirekteur by die NG Kerk Bellville-Wes, Kaapstad.